Wednesday, July 1, 2009

My liefste Lente

2 Julie 2009

My liefste Lente

Jy is vandag 1 jaar en vier daggies oud. En jy is al reeds 10 maande in my sorg. In hierdie 10 maande het my hele lewe verander: dit wat voorheen belangrik gelyk het, het vervaag tot 'n gejaag na wind. Ek hoef nooit weer 'n boek te skryf of 'n pen op te tel en woorde in te ryg nie, solank jy net deel van my bestaan kan wees, van my elke oggend se opstaan en saans se gaan slaap. Solank is ek 'n vervulde mens. Jy het my kom wys wie ek regtig is. Jy is magic. Toorgoed. Jou helder donker oe en twee-tand smile is vol geheime krag. Jy het my weer leer bid, onwillekeurig. Ek kan nie anders nie.

Daar is so baie wat ek vir jou wil.

Ek het verlief geraak van daardie eerste oomblik in die hospitaal toe ons gaan kyk het na die baba wat al twee maande alleen daar le. Jou oe het niks verraai nie, jy het nie gehuil of enige emosie gewys nie. Ek het jou versigtig in my arms opgetel en was onmiddelik getoor. Jy was bitter klein: 2 maande oud en het net 3kg geweeg. Die volgende dag is jy in ons sorg geplaas en saam huis toe. Ons het inderhaas gaan klere en doeke en bottels en babarome koop. My hart het gebons oor die vlaktes soos 'n hasie wat skielik vrygelaat is. Iets in my het weer begin leef. Daar was geen twyfel in my nie. Ek het geweet dat God jou vir my bestem het.

Soms kyk ek na jou en word yskoud van vrees dat jy weggevat sal word van my. Ons word nie deur bloed gebind nie, ek het geen aanspraak op jou nie; behalwe vir hierdie liefde wat die stukrag van die oseaan het. Dit is net hierdie liefde wat my bind aan jou. Hierdie term wat so maklik en losweg gebruik word. Hierdie ding wat so onverstaanbaar is. Ek sal sterf vir jou. Ek sal leef vir jou.

Jou biologiese ouers sien jou vandag. Dit is hul volste reg. My aanspraak op jou le vervat in die blote feit dat ek jou liefhet. Dit is waarop ek staan. Dit is die wankelrige voet wat my regop hou vandag. Maar weet verseker, dit is suiwer. Daar is geen skadu's in nie. Ek is bang - ek is bang dat jou magic hul gaan toor en dat hul alles gaan doen om jou terug te kry. Jy is immers uit hul gebore. Terselfdertyd vra ek myself af: wat weeg die swaarste? Hierdie bloed- en genetiese band wat hul met jou het of my liefdesband?

Ek gaan jou mooi aantrek, ek gaan vir jou iets nuuts en pienk en sag koop vir vandag se besoek. Ek gaan jou invryf met lekkerruik rome. Ek gaan jou voorkop soen en my hand oor jou kroesies streel en dan gaan ek kyk hoe jou bloed-ouers jou optel en vashou en ek gaan in hierdie donkerte inspring in die arms van God en weer leer vertrou; want ek kan nie anders nie...