Sunday, May 10, 2009

DIE HOENDERHERDER

Tussen hierdie vier mure leef die vrou in die dwangbaadjie. Kyk die mure se vuilwit. Bleek om die kiewe. Die gebou is siek. Mure om prente teen te plak of fotos van familielede. Mure om hande teen te bliksem as jy wil. Mure wat binne hou, wat buite hou. Vuilwitmure van die hospitaalplek.

Die vrou bal ‘n vuis na bo en skree: “Lank leef die waansin! Lank leef ons, hier, nou, altyd, eenders, anders, te rond vir die square gat waarin hul ons wil druk”
. Sy lag skielik uitbundig, gooi haar arms bo haar kop uit en tol in die rondte. Sy lag rukkerig, soos ‘n kar wat lank laas gestart is en nou sukkel om aan die gang te kom. Haar lag maak bang. Die ander mense in hul pajamas skuif ongemaklik rond op hul beddens. Party staan nuuskierig nader.
“Julle fokken klomp zombies!” skree die vrou. “Pille pik, pille pik… pik pik pik, dis ook al wat julle doen…. Pik pilletjies, palmpies vol pilletjies.”
Sy trek haar skouers op in vlerke en beweeg haar kop vorentoe en agtertoe: “Pille pik… pille pik pik pik… dom etters, arme dom etters.”
“Kyk die hoender,” skree ‘n ou tannie wat lank reeds verby seniel gaan draai het, sy is nou bloot entertaining.
“Noem my Jan Hoender,” se die vrou uitbundig… “Weet julle wie is Jan Hoender?” Sy kyk rond en vra weer: “Weet julle wie ek is?” Die mense kyk weg, haar oe wip en tol in haar kop soos sy deur die saal na almal kyk. “Ek ken van hoenders, ek verstaan hoenders, ek is die hoenderherder! En julle is my hoenders… verstaan julle?”
Die vrou gaan staan by haar bed. Bo die bed op die naambordjie is haar dokter se naam geskryf en haar eie daaronder. Sy vee haar eie naam met die mou van haar pers pajama-top af. Dan skryf sy met ‘n koukie: Die Hoenderherder se leplek. Sy staan effe terug en skud haar kop tevrede. Sy klim op haar bed en staan regop daarop. Die ander pasiente trek ‘n halfmaan om haar bed. “Kom my hoendertjies, kom… ek is jul herder, ek sal jul versorg…” Sy tower ‘n boksie smarties uit haar bedkassie se laai uit: “Oe, pilletjies, pilletjies, my hoendertjies, kom pik pik!” Die pasiente staan nader, hou hande uit. Een vir een gee sy elkeen ‘n smartie. Soos ‘n nagmaal waar brood en wyn gegee word om liggaam en siel weer aanmekaar te weef, so deel sy haar unieke pilletjies uit vir die pasiente. “Sit op jou tong, dink een gelukkige gedagte en jy sal vlerke groei wat hoog kan vlieg, my dierbare hoender,” se sy vir die verwarde rooikop vrou met die naels stomp afgekou tot in die lewe. Daar is ‘n tiener in swart geklee met spykerhare wat die lug instaan. Sy roep hom nader. “Kom, kom, haantjie – kom pik ‘n pilletjie vir die pyn.” Hy bly ‘n ent weg van die bed en vreemde vrou daarop staan. Sy spring van die bed af en gaan staan voor hom. “The gift of life and death. The KNOWLEDGE. Eet aan hierdie boom van wysheid en he die kennis van goed en kwaad, sodat jy altyd kan weet…” Hy kyk in haar oe en hou sy hand versigtig uit. Sy gooi ‘n pers en ‘n groen smartie in sy hand. “Jy het meer nodig as die ander. Die pers is ‘n pil vir addelikes. Die groen is ‘n pil wat mens na aan die natuur hou, sodat jy altyd sal weet wie jy is. Voete op vaste grond. Toe, vat, drink dit.” Die tiener sit die twee smarties op sy tong en maak sy oe toe wanneer hy daaraan suig. Skielik beweeg die pasiente almal weg van haar bed af en gaan terug na hul eie. Die saal word swaar. Die mure kry krake en bewe onseker. Die herder van die hoenders gaan staan reg voor die stoornis. ‘n Nurse in ‘n wit uniform en kwaai deurskynende blou oe. “Wat gaan hier aan? Almal van julle, kry julleself reg, groepsterapie is oor tien minute. En almal moet daar wees, niemand word verskoon nie. Dis hospitaalreels.”

Wanneer die nurse weg is, gaan staan die herder in die middel van die saal. “My hoendertjies,” se sy “ons sal maar moet gaan. Onthou net: jy mag as jy wil, maar jy hoef nie…anders bly daar niks van jou oor nie. So as jy nie lus het om deur ‘n seer-deel-sessie te gaan nie, hou jou bek. Bly stil. Se net niks. Capice?”
Die ander pasiente knik koppe en beaam.
“Nou goed, kom ons kry ons in orde vir groepsterapie… jippie, juig al wat leef!” Sy staan voor die spieel bo die wasbak. Met oogpotlood omkring sy haar oe diep swart, sy sit skelrooi lipstiffie aan haar lippe. Dan bind sy ‘n bandana met ‘n geel sonneblom motief op om haar bos krulhare vas. Sy het ‘n pers pajamatop aan en ‘n oranje sweetpakbroek. Aan haar voete is skaapvelpantoffels. “Kom, mooiding,” se sy vir haarself in die spieel. “Ons gaan bietjie groepsterapie hou.”


2.

Sy sit oorkant ‘n sielkundige in ‘n alternatiewe soort spreekkamer met ‘n diep wegsinkbank wat al deurgesit is. ‘n Bank met pers-bont lappe op en kussinkies.
“Ag, ek dra die plekke aan my soos ‘n jas, al die plekke waar ek al was… plekke soos hierdie en plekke waar die vlaktes jou naam kreet en bossies weerlose dinge fluister in die wind… maar ek verwag nie dat jy moet verstaan nie. Jy is van buite en kom dan in. Soos ‘n penis wat slegs ‘n besoeker is en sy desperate semen agterlaat in die hoop dat iets sal groei daaruit. Ek, aan die ander kant, is hier binne, ek bly hier…ek ontvang jou woorde, jou invloede en besluit dan self wat om daarmee te maak. Dis in elk geval wat ek van terapie dink. Dis soos seks. En die shrink is ‘n stywe piel wat saad wil stort in my kop.”
“So, jy sou dus se dat al die inrigtings waar jy was nie ‘n negatiewe effek op jou gehad het nie?” Die shrink kyk skerp na haar. “Want ek kan aflei uit jou skryfwerk dat dit tog ‘n effek gehad het, jy bring dit baie keer in, asof jy dit moet uitkry…”
“Alles moet uit, een of ander tyd. Wat geskryf staan, het bestaansreg. Dit gee wat gebeur het die reg om ‘n effek te he. Ek skryf om al my realiteite te herskep. Niks hoef regtig te wees in mens se onthoue presies soos dit was nie, tyd verander dit. Dit word nuutgeskep in my skryfwerk, ek is alleen-skepper, amper soos ‘n god van die woord. OF wag, eerder ‘n god-in-konstante-wording!”
Die hoenderherder voel die beweging in haar brein. Sy voel die tinteling van gedagtes wat beweeg en plek soek om uit te kom. Sy geniet dit om met die shrink te praat. Daar is iets wat haar vry maak om hier te praat. Sy hoor haar woorde soos musiek in ‘n vreemde taal wat wanneer dit gespreek word, skielik sin maak. Ah, soos ‘n charismatiese christen wat in tale kan bid en iemand anders staan op en vertaal dit. Die shrink as klankbord word die noodwendige vertaler.
“Eintlik,” se sy,”gaan dit alles daaroor om die waan sinvol te bedryf… met of sonder pille, verkieslik daarsonder, sodat mens se kop skoon kan wees.”
“Ek dink nie jy moet jou pille los nie,” se die shrink.
“Ek het nie gese ek gaan my pille los nie… wel, ek het reeds, een soort van hulle… maar kyk na my, ek is fine daarsonder. Ek sien nie gesigte nie, ek het nie ouditiewe of visuele stoornisse nie…”
“Dink jy jy hoort hier, in hierdie plek?” vra die shrink.
“Natuurlik, dis beslis waar ek nou hoort, moenie my huis toe stuur nie, ek is nog nie gereed nie, asseblief.” Skielik lyk die hoenderherder beangs. “Ek is goed vir die ander mense hier, ek doen eintlik jou werk, ek versorg hulle wanneer daar niemand anders is nie… die mense hier het my nodig.”

No comments:

Post a Comment