Sunday, April 26, 2009

GEDIGTE - geestelik

Maar ek praat, ons praat, want die stiltes
maak te veel geraas:
nou verwoord ons uit die wind –
vurige redenasies oor plek en doel,
tekens en tye,
die droogtes en die einde…

Soveel sinsnedes, grepe uit wegholgedagtes
wat nêrens grondvat of openbaar nie,
bloot ‘n getuie teen die self:

Die mens, uit rooi ploeggrond geskep,
is bliksemsbang vir die wag
by ‘n brandende bos

op ‘n Stem wat net praat
in Stiltes.


***** Geskryf in 1999, in 'n tyd van selfondersoek en soeke na die Stem



____________________________________________________________________


VROEGOGGEND BIDSESSIE BY DIE Middestad- Evangelisasie- en Sendingaksie

Oggendson breek flou teen die spuitnaaldtoring:
Hillbrow ontwaak. In ‘n konka word vuur
brand gemaak. Straatlopers strek
skurwe hande na die warm.

Dae herhaal hulself in ‘n eindelose spiraal,
vou oop soos vuil komberse op die pavement.
Twilight kinders leef oophand by die bushalte
afdak oorkant die pad:
almal hier hèt al geleef, gesterf,
opgestaan en aangegaan.

Maar in die sendinghuis
lui ‘n kosskoolklok:
Staan op Staan op vir Jesus.

Ons gaan aanbid
met koffie-asems
in ‘n pajama-wit koue


****** 1991, toe ek 19 jaar oud was en sendeling in Hillbrow, Johannesburg

____________________________________________________________________
OUTIES-DELIGHT

Vir Donderdag se kerk in die saal,
kan jy daagliks jou grub kom haal –

Die lang ry lywe raak ongeduldig teen die baksteenmuur
van die sendinghuis in Esselenstraat se vrot,
maar aanbid elke Donderdag diè God
wat brood gee in ruil vir sielig sing en luister
wanneer Pieter sy Bybel oopslaan en Jesus fluister
uit die helende Kerrie-pot
van Joe se outies-delight sop.
------------------------------------------------------------------------------------------------
Iewers in die nag het ek Iemand in my verloor:
Nou loop ek terug op my spoor
soos met verdwaal in ‘n bos.
Waar het ek my god gelos?

Skuins oorkant die Protea Kliniek; op die hoek
van Banket- en Esselenstraat; in die grafitti-stegie
of by die vuur in ‘n asdrom onder die bushaltedak?

Ek loop deur die strate van ‘n grommende stad.

Voetstappe weerklink in die vuilgroengange
met die Jik-reuk, word stil by die anorexia-lyf
op die bed. Daar staan ‘n nursie in wit wat sê:
Ons vat nie Wallcanol-verslaafdes in nie, dis dit.

Ek vra die ou oom in die wagkamer vir ‘n sigaret,
Tracey trek diep en hoes kringe om my kop:
alles word ‘n wasem.


Vanoggend kon ek myself nie
kry in die terug-kyk spieël nie.
____________________________________________________________________
jirre, seën hierdie helse hillbrownag;
strek jou handpalms hoog bo die spuitnaaldtoring
en die hoere en die moffies en die pushers
wat in stegies wag, die pimps wat lywe besit

en die rykes wat kom kyk – hillbrow is die local zoo

en jirre, seën die oophand straatkind
met die gomhonger in sy oë.

******* al die hillbrow gedigte is in 1991 en 1992 geskryf...
____________________________________________________________________

1 comment:

  1. Sjoe Marlize,

    "Iewers in die nag het ek Iemand in my verloor:
    Nou loop ek terug op my spoor"

    Dit is so ontstellende werklikheid. Ek lees. En my oë bloei. My asem stol in my keel. En ek voel bitter druppels wat plons op my hart.

    Want ek wonder. Of jy daai Iemand weer gevind het. Want jy sal moet vasklou. Aan daai Hand.

    ReplyDelete