Monday, October 12, 2009

kortverhaal

Skielik praat ek weer na dertig jaar se stilte en ek kry dit nie reg om op te hou praat nie… Dit is wat ek hardop gesê het in daardie oomblik, aan myself, vir myself: Jou fokken etter. My stem klink vreemd en hees, asof ek ernstige larangitis het.

Ek noem hulle almal. Al die vloekwoorde wat ek ken en nie regkry om te skryf nie, want die sien daarvan, is skrikwekkend. Dat een mens soveel vloekwoorde kan ken na dertig jaar se stilte, is skokkend. En dat ‘n simpel ding soos jou eie kop mens daartoe kan dryf om jou stilte te breek, is miskien verstaanbaar, maar totaal onnodig.

Ek noem vele woorde in onsamehangende sinne: die daaglike drek van my bestaan, kry ‘n ander soort betekenis. Gedagtes tol in my kop en kry uiting op my tong: Fok al die mense, EK is die mense. Daai ou se roeispane vat nie water nie. ‘n Ander ou se kop kap aan en is lekker deur die mikke. Woorde wat ek gehoor het op skool en nooit self gebruik het nie. Aanvanklik het ek slegs myself hardop geskel, in teleurstelling, in onvergeeflike wantroue. Hoe kon ek myself so verlaag dat ek actually begin praat het! Maar toe kom die lekkerste sin ooit in my kop op: KRY VIR JOU!

So, nou kry ek vir my woorde, sinne, betekenisse en ‘n tong waarom woorde krul en uitgespoeg word. En ek kry lekker. Dit ril teen my lyf af en dis vir my mooi. Ek glimlag, ek lag hardop, ek skree, ek huil hardop met skouers wat ruk en blaas my neus luidrugtig in ‘n stuk toiletpapier, want tissues is ‘n vreemde ding in my bestaan en was nog nooit nodig nie.

Skielik kan ek weer die mensdom bereik, want sonder woorde of ten minste gebaretaal, is hul ontoeganglik. Tog weet ek: ‘n middelvinger sê in elk geval meer as ‘n hele sin vol woorde. Maar nooit het ek my eers tot gebaretaal gewend nie. Ek was stil soos ‘n Budhistiese monnik wat vrugte plant en pluk. Dit kan seker ‘n vorm van selfkastyding genoem word, maar ek dink nie dit was so iets nie. Hoe stiller mens raak, hoe minder hoef jy te dink. Dink is nogal ‘n uitputtende besigheid, besef ek. Om so die heeltyd te dink oor wat jy volgende gaan sê, is heel anders as wat ek verwag het.

Vir dertig jaar het ek niks te sê gehad vir die wêreld nie. Ek het egter die wêreld beluister. Ek het amper alles gehoor soos ‘n spioen, ‘n ondergrondse lid van die KGB. Ek het die morsekode van lyftaal en woorde en stiltes tussen woorde soos die stiltes tussen lirieke en musieknote, leer ken. Ek het rokers en nie-rokers, druggies en dominees, sekswerkers en selibate banggatte leer ken. Elke sub-kultuur met ‘n eie taal wat slegs deur die ware luisteraar geken kan word. Ek het klerasie leer verstaan, van labels en goedkoop China-shop klere. In kort, ek het die mensdom in sy warboel van kleur, geur, krag, vernedering, hofwaardigheid, arrogansie, vrese en vreugdes leer verstaan. Maar nooit het ekself hardop gesing of gebid of gebedel vir genade nie.

Ek is ‘n terapeut en stiltes is tog waaroor my beroep gaan. Ek het nooit raad gegee nie, ek het nooit woorde gebruik om my kliënte hul situasies en probleme te laat verstaan nie. Hulle het net daar op my pers bank met die bont kussings en die tissue-boks op die vloer, gesit en gepraat tot hulle leeg was. Ander het saam met my stilgebly en vir die eerste keer kon hul hulself hoor. Dit is daardie kliënte wat my sukses-verhale geword het. Stilte het my geleer dat mense praat, omdat hulle bang is dat die stilte hul sal versmoor en slegs diegene wat daardie vrees oorkom het, kan weer opstaan uit die kak van hul lewens en skoon word, vry word van die woorde wat hul vasgevang hou.

Nou praat ek egter weer. Ek sit om ‘n kring nuutgevonde vriende en praat non-stop vir ure. Ek vertel die stories wat ek gehoor het in my stiltetyd, maar ek split nie op my geliefde kliënte nie. Tog praat ek nie versigtig nie, ek tel nie my woorde nie. Ek is nie bang dat die woorde wat uit my mond vloei, sal terugkom en my naar maak nie, nee wat… ek het geen vrees meer vir woorde nie.

Ek doen ‘n herbesoek aan die plek waar ek my praat verloor het: daar by die soutpanne van Louwna, waar my pa predikant en my ma mevrou-dominee was. Ek ry in die hitte met die air-con aan en heavy metal musiek kliphard wat deur die vensters dreun sodat my kar soos ‘n mobile disco klink. Dan naby die soutpanne parkeer ek langs die pad, trek my skoene uit en vat weer die pad, kaalvoet in die hitte. Weereens word ek vies vir myself omdat die gruis my voete brand. Ek luister vir oulaas na die geluide om my en dan sing ek dit DOOD! Vreemd hoe maklik mens stiltes kan breek, wegvat, vermoor. Ek praat hardop met myself. Ek probeer uitredeneer waarom ek opgehou praat het. Dan loop ek vinnig terug. Ek merk niks op nie, ek is slegs bewus van die woorde wat uit my stroom. Elke onsinnige sin en stukkie woordeskat wat in my oorgebly het, stort ek uit. En dis wragtag lekker. Ek het nooit kon dink dat woorde so arrogant lekker kan wees nie!

Ek sê vir my ouers: “Hier is ek…” en my ma begin huil, my pa val op sy knieë neer op die teelvloer van ons kombuis en prys die Here, halleluja! Ek sê: “Ek is lus vir Ma se pap en wors met uie-en-tamatie sous.” Ek sê: “Die gruispad het my voete gebrand.” Dan vra ek oor die weer en of dit nog so vrek-warm is en ek sê: “Ja, hemel, dit is darem warm hier,” nog voor hulle kan antwoord. Ek vra ook: “Hoe gaan dit?” Dit gaan goed met my, antwoord ek. Ek gee nie om wat hulle vra of sê nie. Hoekom het ek ophou praat? “Sommer.” Verlang ek ooit na die vlaktes noudat ek in die stad bly? “Soms.” Hoekom het ek nooit gebel nie? “Obviously omdat ek nie gepraat het nie.” Hulle praat en vra vrae en ek praat my eie stories. Ek vertel van my lewe en kry skaars asem soos ek praat. Ek gee nie eintlik om oor die groentetuin wat my ma so mooi versorg of die skape wat my pa deesdae aanhou nie. Ek loop nie om die pastorie om te gaan kyk nie. Stil mense loop en kyk na goed. Ek het nie gekom om te kyk of te luister nie, ek het gekom om te praat. Ek kan nie die twee gelyktydig doen nie, besef ek. Dis hels moeilik. So, nou doen ek maar my praatwerk. Te lekker. En ek kry vir my, ek skep, want dit reën pap, korrelrige boerepap vol letters wat woorde maak wat sinne maak wat uit my donder en bliksem en neersous. Ek besluit om vir ‘n rukkie by my ouers aan te bly, daar is baie wat ek die mense van die dorp kan vertel. Ek wil darem ook effe spog met my spraaksaamheid.

Ek loop gereeld die pad wat my stil gemaak het en praat die heeltyd hardop, probeer steeds uitredeneer hoekom ek opgehou praat het. Maar hoe meer ek praat en dink, hoe minder kry ek dit gekop.

En eendag deur my baie praat en nuutgevonde woorde, ontmoet ek ‘n kind wat opgehou praat het en ek probeer my bes om haar aan die praat te kry. Sy kyk net anderpad, so half oor my skouer. Ek kyk om, maar sien niks. Ek oefen al my aangeleerde manupilerende woorde. Ek smeek: “Agtoe, praat met my, sê net iets, enige iets. Ek verstaan baie dinge, jy kan my enige iets vertel,” sê ek. “Kyk, daar bo,” wys ek haar, “daar bo kwetter ‘n voël en wag op jou om terug te antwoord.” Stilte. “As jy mooi vra, sal ek jou ‘n storie vertel.” Alle kinders hou mos van stories. Sy sê niks. Ek kyk af en sien sy is kaalvoet op die gruispad. “Brand jou voete nie al nie? Gaan jy soutpanne toe? Waarheen loop jy, hê?” Niks. “Ek hou van jou hemp, waar het jou ma dit gekoop?” Nog minder. Die kind trek nie haar skouers op nie, sy draai nie haar lyf weg nie, sy skud nie haar kop nie, sy is bewegingloos stil. “Nou maar ja, duidelik wil jy nie met my praat nie. Wat het ek ooit aan jou gedoen?” Die kind kyk net voor haar uit, steeds oor my skouer na die vaal-blou hemel wat pateties oor die vlaktes hang. “Kan ek saam jou terugloop dorp se kant toe,” vra ek. Sy staan net stil. Dit pla my. Ek hou niks daarvan nie. “Wel, kry vir jou!” skree ek vir haar. Direk in haar ore. Sy skrik nie eers nie. Sy kyk net dwarsdeur my, asof ek nie eers daar is nie. Die fokken kind! Die halstarige fokken kind!


Dan merk ek dit op: sy het geen skaduwee nie. Haar skadu sleep agter myne aan soos ek beduie en rondom haar kring om haar aan die praat te kry, so sleep die kind se skaduwee agterna. En ek raak die bliksem in. Skielik verdwyn die kind, raak net weg, sweef iewers oor die vlaktes, haar vaalhare hang aan die wolke. Haar voetspore word die wind se rok wat sleep. Dan skree ek oor die vlaktes: “Here Jissus, kind, kom terug!” Maar ek het nie ‘n stem nie, alles is stil. Ek word bang, daar is geen woorde in my nie, daar is geen gedagtes wat hul praat wil kry nie. Net die stiltes bly.

No comments:

Post a Comment