Friday, October 16, 2009

'n fokken briljante ding wat ek in 2001 geskryf het!

Wat vir my heel interessant was rondom die hele ding oor vloek, seks en vrouens; is dat niemand maar niemand iets sinvols te sê had oor enige van my skrywe nie; behalwe natuurlik dat ek vloek en in “Oh, Captain my Captain” ’n beskrywing van wedersydse masturbasie gee. Die seksdaad vind nie plaas in die beskrywing nie.

Hipotetiese stelling: y=(f)x

Waar y die afhanklike veranderlike veronderstel en x die onafhanklike veranderlike.

z is dan jou steuringsveranderlike wat kan beteken dat ander faktore intree wat op hul beurt veroorsaak dat jou hipotetiese stelling nie so mooi uitwerk nie.

Eenvoudiger gestel: Sê nou maar net die mens (y) is ’n funksie van God (x) en sonde is die steuringsveranderlike (z). Maklik nê?

Die sonde veroorsaak dat die mens dus nie meer bereid is om as afhanklike veranderlike op te tree nie.

(Bogenoemde is bloot ’n hipotetiese stelling).

My skrywes kan dus as volg gelees word — dit wat ek skryf, is die afhanklike veranderlike (y) — m.a.w. dit wat ek graag sou wou weergee. My subjektiewe relaas van ’n waarskynlike realiteit; want dit kan gebeur. Dit kon gebeur het. Slegs ek sal weet hoeveel is waar en hoeveel nie — of miskien sal selfs ek (die skrywer) op ’n punt nie meer weet hoeveel is waar al dan nie ...

Waarvan is die “subjektiewe weergawe van ’n waarskynlike realiteit” (die storie) afhanklik? x natuurlik: die taal. Die medium waarin ek dit sê. Hierdie medium bestaan uit ’n baie groot hoeveelheid opsies (26 letters, miljoene sinne — soveel betekenisse wat die skrywer in sinne sou wou weergee. ’n Sin om mee sin te maak.)

Die steuringsveranderlike (z) behels dan die wyse (effektief of oneffektief) wat ek aanwend om te sê wat ek sou wou sê. En dit kan die moontlike “geraas” in kommunikasie veroorsaak.

Dit is van my kant af duidelik dat die WYSE waarop ek met die taal omgegaan het om te sê wat ek wou sê, geweldig geraas veroorsaak het by die leser(s) — soveel so dat slegs die vloektaal en effense verwysing na seks gehoor is.

Aan die ander kant, egter, is daar die leser. En hier het ons met dieselfde te doen: y = f(x)

Die teks (y) — dit wat geskryf is; staan as afhanklike veranderlike teenoor die leser (x); onafhanklike veranderlike wat beïnvloed word deur z = die wyse waarop die leser KIES om die teks te interpreteer — hierdie keuse kan bewustelik of onbewustelik wees. Dit word beslis beïnvloed deur die leser se leeservaring, verwysingsraamwerk, godsdienstige en ander oortuigings, persepsies, ens.

Die eenvoudige hipotese wat ek in my skrywe: “Oh, Captain, my Captain!” gemaak het, is: In die grootste oomblikke van ons lewens val ons terug op clichés. Clichés is deurleefde, deurwinterde sinsnedes — daarom dat hulle die status kon bereik. Hulle is baie “useful”.

Niemand het my hieroor aangevat nie — daar was dalk te veel steuringsveranderlikes ...

Die verteller smag na die dood om haar te red uit verveling ... sy het soveel opsies in die taal om hierdie mee weer te gee; maar dit kom (no punn intended) tot niks. Daarteenoor is daar die karakter, Ivan, wie “post mortems doen en babies vang”. Dood / Lewe — die lewe gaan aan — cliché? Dan is daar die kaptein wie haar herinner aan ’n tyd toe jong manne weermag toe is met die wete van ’n (hipoteties gestel) waarskynlike dood ...

In die oomblik van klimaks (petit mort) is die enigste moontlike beskrywing vir wat gebeur dan “Oh, Captain, my Captain!” — ’n clichè.

Bogenoemde is egter alles bloot ’n hipotese; want soos ons almal weet: niks in die lewe is seker nie.

Maar vir eers is ek terug en ek is bly daaroor.

Bylaag tot die Z-faktor

Wat vooraf gesê is, kan natuurlik ook heel anders geïnterpreteer word: dat Taal ’n funksie van die mens(e) wie die taal besig, is.

Dan word taal jou afhanklike veranderlike (y) en die mense wie hierdie spesifieke medium (Taal — Afrikaans) gebruik is dan jou onafhanklike veranderlike (x).

y(taal) = (funksie van) mens.

z — wie die mense is, persepsies, ens.

Die steuringsveranderlike kan dus in hierdie geval steeds die mens se ervaringswêreld wees: in ons geval — moderne tegnologie. Maar die impak van kultuur, “erfgoed” (soos godsdiens en ’n wêreldbeskouing van wat moontlik reg of verkeerd is); kan mens nie weglaat nie. Dit gaan beslis ’n invloed hê op hoe ons met die taal omgaan.

Want taal verander na gelang van die mense se behoeftes, daarom dat neologismes bestaan.

***

En nou, net om geheel en al confusing te wees; wil ek die volgende hipotese stel: Sê nou net die teks (dit wat daar geskryf staan), is (x) die onafhanklike veranderlike, wat net is, omdat dit is. Soos die vorige hipotese i.t.v. God (I AM).

EN die leser is dan jou afhanklike veranderlike (y) wat deur die teks beïnvloed word — soos die leser die teks lees, so lees die teks die leser terug. Miskien was dit nog altyd die woorde wat die leser gelees het en nie andersom nie.

(Dit maak vir my baie sin). Want, helaas, die leser se interpretasie of ervaring, van die teks; verander absoluut niks aan die teks nie — dit is daar; dit staan geskrywe ... Die Skrif Is Aan Die Muur.

Miskien beïnvloed die skrywe / teks dan ook die skrywer en bestaan somehow onafhanklik van die skrywer. Makes u think, doesn’t it?

En weereens sal die steuringsveranderlike (z) die mens se persepsie, ens wees.

Sjoe! Nou’s ek moeg.

Ek het vir ons ’n ander bal gekry om mee te speel ... indien nie: I’m back, play me.

Marlize

2 comments:

  1. Die leser is uiters belangrik in die betekenis van die teks. Die teks is nie god nie, maar kan wees as die leser dit so wil he. Om te illustreer:

    Deur die leser se rol te beklemtoon, maak ek gebruik van Derrida se strukturalistiese metafoor van die Vader/seun. Ek maak die volgende hipoteses: die teks as “vader” en die leser as seun, insinueer dat die leser ondergeskik is aan die teks en as’t ware grootgemaak word deur die vader/teks. Of dan eerder die “die flankering van die vader en die seun” wat ’n soort homoseksuele bloedskande in die mees ekstreme sin van die woord is. Die teks en die leser is hier gelyk aan mekaar; dit is hier waar die teks invloed uitoefen op die leser en die leser invloed uitoefen op die teks. Of dan eerder, die vader as ‘dood’ wat beteken dat die teks dood is, totdat die seun aan sy gestorwe vader betekenis toeken en dus geen vasbepaalde betekenis het nie. Hierdie sluit ook by Barthes se slagsin aan waar hy skryf oor die geboorte van die leser en die dood van die skrywer. Of, laastens, die seun as rebel wat draai teen die gesag van die vader; wat juis, omdat die vader “dit” as reël het, “dat” sal doen.

    ReplyDelete
  2. Ek lees myself, nie die teks nie...

    In Frans word die term 'Se-decontruire' naamlik de-konstruasie – die idee dat ’n teks “haar”-self dekonstrueer. Die woord de-konstruasie sinspeel op die woord “menstruasie”, maandelikse bloeding van die baarmoederslymvlies by vroue wat geslagsryp is (HAT, 1994). Die “bloeding” van die teks wat die teks “onrein” maak (vgl. Levitikus 15:19) is van toepassing op die idee dat die werklikheid (Hambidge, 1995:12) ook ’n teks is: gebroke, ondeurdringbaar, onbegrypbaar, onaf. Mens sou dus ook kan sê dat die teks “onrein” is, deurdat die werklikheid nooit “skoon” ervaar kan word nie en die interpretasie van teks berus altyd op ’n stel kodes en konvensies en dit beteken dat die mens nooit [sy omgewing] kan “sien soos dit is nie” en “dat jy nie meer kan konsentreer op die mooi begrenste boek of werk voor jou nie. Die teks/werk laat hom nie meer begrens nie en die leser moet begin lees sonder die krukkies wat hy sy lewe lank al aan’t leer was” (Viljoen, 1997:4). Dus, die de-konstruasie van die teks wat sélf dekonstruktief van aard is [to lose its construction].

    Die woord de-konstruasie se verbinding met die woord menstruasie, sal meer betekenis ontleen wanneer die voorvoegsel of prefiks “de-” voor “menstruasie” geplaas word; sodoende is daar ook ’n reeks ooreenkomste tussen die twee woorde se vorme wanneer mens kyk na die prefiks en affiks “de-” en “-struasie” onderskeidelik. Om die woord “de-menstruasie” te dekonstrueer, gaan ek ’n taalspeletjie speel: de-mens-truasie; die idee dat die vrou se “mensheid” van haar weggeneem word deurdat sy deur hierdie bloot “natuurlike” gebeurtenis as “onrein” (vgl. Levitikus 15:19) gesien word. Daar is nou ander faktore betrokke by die lees van een teks. Dit gaan nie meer net om die hoofteks nie. Dit gaan nou nie meer om net die vrou nie, maar of sy rein/onrein is. Om hierdie beeld uit te brei: Wanneer die vrou na sewe dae rein geword het, moet sy sewe dae tel en daarna sal sy rein wees. Op die agtste dag moet sy twee jong tortelduiwe neem en by die ingang van die tent van samekoms na die priester bring. Dan moet die priester die een as sondoffer en die ander as brandoffer berei; en die priester moet vanweë haar onreine vloeiing vir haar versoening doen voor die aangesig aan die Here. Deur hierdie teks van Levitikus van toepassing te maak op die aktiwiteit van dekonstruksie, beteken om die leemtes en gapinge in die teks met eie konstruksies te vul. Op grond van eie leeservaring bring jy ’n teks tot stand. "Ek lees myself, nie die teks nie" (Du Plooy, 1994:27).

    Hierdie gedeelte en die vorige gedeelte (6 April 2010 is deur Alwyn Roux geskryf, ook bekend as Wyn Roux.)

    ReplyDelete