Friday, October 16, 2009

Oh Captain my Captain!

Dit is vyf-en-dertig grade celcius, Vyftien November. Ek lê onder ’n waaier. My gedagtes draai-draai in die speke vas. Daar kleef ’n fyn sweetreuk aan my. Ek bad en bad weer; maar niks bring verligting. Ek pop valiums, prozac, prothiaden, dormicums — wat ek ook al in die hande kan kry. Na sewe saans bel ek almal wie ek ken en praat al hoe meer kak. En ek weet: Ek wag op ’n onwaarskynlike dood.

My huis het onbewoonbaar geword en ek walg aan die dorheid van my bestaan. Ek trek die gordyne toe — vuil pienk en blou gordyne — ek wil nie meer weet hoe dit buite lyk nie. Wat ook al tussen die takke van bome skuil, gaan my nie meer aan nie. Die aarde tol op sy as en ek word naar. Die dood is ’n uitgerekte besigheid wat begin met konsepsie en fokken net nie einde kry nie. Die wind breek deur my vensters en versplinter oor die mat — vul die holtes met ’n groter leegte.

Ek rook ’n pakkie Stuyvesant voor ontbyt op en sit vir die res van die dag en naels kou voor my rekenaar. ’n Dom pianis oor die keyboard. Ses-en-twintig letters, miljoene der miljoene woorde verskuil in die letters om sin te maak uit my bestaan. Eindelose opsies wat tot niks kom.

Uit verveling, begin ek op my bure spioeneer: hulle gewoontes, hoe hulle daagliks tussen hul huise en die hospitaal beweeg. Wasgoed wat slap in die wind hang — die intieme besonderhede waarmee hul hulself klee: Ivan dra funky boxershorts soos uit Amerikaanse movies. Ek kyk hoe groei die gras oorkant die pad in sy tuin; hy buk en trek onkruid uit. Sy arms fyntjies gespierd: ek volg die lyne van sy lyf en die weerloosheid aan sy skouers. Ek wonder oor sy hande: hoe hy post-mortems doen en babies vang in Maternity Ward. Ek ken die patrone van elkeen hier se bestaan: hoe laat hulle die ligte in hul voorkamers afsit en beweeg na slaapkamers — om te wat? Lees, bid, dink aan ander tye, plekke, mense voor hier en nou?

Soggens staan ek op en soek die pad uit my deurmekaar huis om by die werk orde in ander se lewens te skep: ek luister- wie het wie verneuk, wie het die ander met hierdie verskriklike siekte aangesteek ... Waarom die lewe kak is, waarom dit GREAT is; aldus die skizo wat kaalgat in die village rondhol en die tribal authority ontstig. Die wat uitsterf aan ongeneeslike siektes, begin suip en slaan op vlug die vlaktes in met die dood in hul lywe.

Waarom is ek so BORED met die mensdom? (Myself inkluis). Iewers moet iets tog vernuwing bring — maar die wêreld is oud en niks is meer nuut nie. Ek raak skielik befok met die godsdiens en keer terug na die kerk. Ek bid myself simpel. Sondae hoor ek dieselfde boodskap oor-en-oor. Maar dis darem veilig, ’n rigtingwyser op die dodelike pad van leef. Ook dit stem my droef en ek kan die hoflikheid nie meer verduur nie. Die goeie bedoelings werk almal lelik uit en ek raak senuagtig en agterdogtig. Snags slaap ek sleg en die duiwel verskyn by drie geleenthede aan my, sodat ek my huis beangs salf en ’n ander uitweg soek.

Ek keer terug na my kindertyd-passie: die tyd toe ek nog ’n ruimtevaardiger wou word. Saans vat ek my verkyker en staar na die onbereikbare uitspansel. Ek vind uit dat Tetron die enigste planeet is wat ondersom draai en besluit om daarheen te verhuis, sodra dit vir my moontlik is.

In hierdie tyd begin my lewe draai om enige moontlike opsie uit — ek bliksem elke dag van die plat wêreld af en die volgende oggend probeer ek die tyd rewind om op te maak vir wat ook al verlore gegaan het.

Dan word ek uitgeroep op ’n saak na ’n militêre basis ver van hier — ’n pad wat kronkel en kronkel, stowwerig en sinkplaat; en skielik: daar tussen twee heuwels wat soos pikante borste bo die vlaktes uittroon — die basis; knus in hierdie natuurlike cleavage. Ek wonder oor die soldate uit die ou regime wat hier opleiding ontvang het: voorbereiding op ’n waarskynlike dood. Helde van post-mortem medaljes. Hoe het hulle oor dié plek gevoel? En die wat oorleef het, het dit iets in hulle nagelaat, sodat hulle snags wakker word en die stof, klip, sweet en bougainvilleas ruik?

Ek treë dus aan vir diens: naastediens. Ek het geen rang of titel nie. ’n Portugees-sprekende wag keer my voor by die hek. “Bondia,” groet ek en stel my besigheid: ek is hier om die Kaptein te sien. Ek word beduie waarheen om te ry en vind die pad maklik; stop voor ’n huis waar ’n ou hond heup-teen-die-stam onder ’n boom lê; ’n rondloperkat oor die pad koes en ’n Kaptein op my wag. Sy oë en hare is donker, hy dra ’n bokbaardjie en sy kamoefleringsdrag span styf oor sy skouers. Hy toring bo my uit. Sy hande is groot en ru: anders as Ivan s’n; dit laat iets in my roer — ek leef dus nog? Hy nooi my in en ons staan ongemaklik rond in ’n beknopte kombuisie. Hy maak koffie en bied my ’n sigaret aan. Buite hoor ek stemme in Portugees opklink; die woorde draal op die wind en verdwyn verder aan. Daar is ’n ongemaklike stilte hier wat ek nie kan peil nie. Dan hoor ek dit — iewers vanuit ’n ander vertrek:

Chopin se Balade no. 3 in A-flat ... Die skynbare rustigheid, die ondertoon van ’n dringendheid. Ek ken die stuk intiem. Ek luister en wag: dit speel op ’n draaitafel en daar is deurentyd ’n ritmiese krap, ek luister na die stiltes tussen die musiek: my hart huppel lig en vrolik soos ’n hasie oor die vlaktes; dan die opbou na die Grootse — ek raak besete van opgewondenheid. Ek gee oor aan die oomblik en verword tot ’n marionet van die musiek.

Wat volg; is obskuur, onduidelik. Ek wil dit verwoord, my opsies is eindeloos en tog so beperk. Die kaptein staan nog iewers in die kombuis — aangeleun teen ’n kas; hy word ’n hoogtepunt, ’n klimaks in die musiek. Ek staan voor hom, druk my hande teen sy skouers, sodat hy gaan sit. Ek vind myself wydsbeen op sy skoot. My tong in sy mond — ek proe Chesterfield, tandepasta, koffie. Chopin raak besig met iets anders in die agtergrond — ’n roering van vingers oor die klawers, vinnig-vinnig — dit klop in my, tussen my bene. Ek voel sy geslagsorgaan teen die growwe materiaal van die army broek. Op ’n wals in C-sharp bevry ek hom van sy kamoeflering.

Ons gaan stort, hy krimp en word weer lewend in my hand. Hy was die lewe van my af — die ondraaglikheid; al wat bly is rein: ’n suiwer vorm. Wat dink hy nou? Sy hande oor my lyf, sy vingers wat afbeweeg tot daar waar ook my klein skaam orgaan verstyf soos syne. My lyf ’n blote rimpeling op die water, ’n klippie wat val en kring, al wyer uitkring tot in die hortende stiltes van die dood: “Oh, Captain, my Captain!”

No comments:

Post a Comment