DIE KRISMISBOKS
Dit was die kinders wat hom eerste gesien het. Natuurlik, kinders se oë is nog wakker, sien altyd dit wat liewers nie gesien moet word nie. Na die tyd het almal maar stilweg besluit dat dit bloot ‘n anderster soort krismisboks was. Liewers nie weer daaroor gepraat nie. Dit het Madinonyane se geheim geword. ‘n Geheim wat iewers in die Augustuswinde, somerhitte, dor vlaktes in die winter en daaglikse voortsukkel van die afgelope sestig jaar verlore geraak het.
Die ou madalas het gesê dit is die voorvaders wat kom praat soek, iets wil kom sê. Die vrouens het geglo dit was die reëndans wat hom gebring het. Hy het tog seker uit die hemel geval? En het hulle nie elke aand vir ‘n hele maand die stil mond van die lank-terug fontein gaan dans nie? Maar niemand het regtig geweet nie en almal het reeds vergeet.
Hy was net een dag daar in ‘n groot rooi-blink boks soos bloed. Soos madi en die mense het gesê: madi is bloed en madi is geld. Die rooi boks bring vir ons rykdom. Die kinders kon nie presies onthou wanneer hulle vir die eerste keer agtergekom het dat daar ‘n rooi ding tussen die bessiebossies naby Thusanang Winkel staan nie, maar hulle sê dit was Peme, Gabo en die klein dofkop Thupelo wat op die boks afgekom het, terwyl hulle besig was om bessies te pluk. Die blinkding het deur die vaalgroen bossies geskyn. Gabo het dit eerste gesien en toe vir die ander beduie.Thupelo het sommer dadelik nader gehol, krippelbene of te not. En hy het ook dadelik ingeloer. “Eish, Thupe, emmapele!” wou Peme nog keer. So asof Thupelo sou verstaan van “wag-‘n-bietjie” en “versigtig wees”, die boks het dan soos die sterre geskyn! En ‘n blinkding is mos maar net ‘n anderster soort ding. Dit vat die oog en dit vat die hart en dan sleep die hele lyf sommer saam.
Thupelo het ingeloer by die oop flappe van die blinkrooiboks, ingebuk en taai bessiehandjies gestrek om aan iets, iets daarbinne te raak. ‘n Geluid het skielik uit die boks gekom, ‘n kreun soos iemand wat seer het. Toe ruk Thupelo regop en hol in die grondpad af dat die stof bolle agter sy voete staan. En hy skree: daar’s ‘n ding daar binne wat lewe! En die ander twee vat die pad agter hom aan. So het hulle eers tot stilstand gekom anderkant die winkel, nog anderkant die Kgosi se beeskrale by die huis van die oudste vrou in Madinonyane, Mapule. En dis sy wat die storie stuk-stuk uit Thupelo getrek het. Van die blink boks en die voël-mens daarbinne. Hy het seer, het Thupelo aangehou. Hy klink of hy huil. Dan het hy sy hande voor hom gehou vir almal om te sien: aan sy taai palms het donsies gesit waar hy aan die voël-mens gevat het. Maar Mapule was ‘n ou vrou wat nie storietjies kop toe gevat het nie. Daai kan enige voël se vere wees, het sy gesê. “Nou kom kyk, kom sien self die boks en die ding daarin,” het Thupelo gesê en hy het soos die ander geklink, hy het nie meer gesukkel met woorde nie. Sy tong het skielik praat verstaan. Dis seker die groot skrik, het Mapule gedink en haar kop in ‘n rigting laat staan: “Bring my kierie en loop haal ‘n kruiwa by die Kgosi, ek gaan g’n die lang pad loop tot daar nie”.
So het hulle die pad afgesukkel: Thupelo wat voor loop en praat en beduie, Peme en Gabo wat die ou Mapule in die kruiwa stoot oor die sandwalle heen. Verby die Kgosi se beeskrale waar hy koeie aan die melk was: “Waar gaat julle?” En verby al die baksteen en sinkhuisies, waar al die mense vra: “Waarheen?” En dan vertel Thupelo en die mense skud hulle koppe: “Nee, wragtig, dit moet ek self sien…” en val in die ry agterna. Naderhand het hul al wat ‘n mens was op sleeptou gehad.
Die mooi blink van die rooi boks het die mense van ver reeds stil gemaak, sodat daar net fluisterstemme oorgebly het. Reg voor die boks het Peme en Gabo die ou vrou van die kruiwa afgehelp. “Gee my kierie,” het sy gesê en wankelrig regop gekom, nader gestaan, by die boks ingeloer en daar het sy hom gesien sit, ineengekrimp. Dit was soos Thupelo gesê het. ‘n Voël-mens. Sy lang vlerke bloederig, styf teen sy krom lyf getrek. “Maak oop die boks, ons wil sien,” wou die mense hê. “Wag, hy’s bang,” het Thupelo gekeer. “Staan opsy, kind, laat die grootmense die saak bekyk,” het Mapule hom aangesê, maar hy wou nie. “Dan sal ek liewers oopmaak, is tog ek wat hom eerste gekry het.” Thupelo het die kante van die boks met sy donsveerhande oopgeskeur, rooi karton het op ‘n skielike dwarrelwind weggewaai teen die naaste bosse vas. Daar kaal vir almal se oë om hulle kyke te kyk was die mens met die vlerke. Sy gesig kreukel-oud, ‘n bietjiesbaard korrelrig aan sy ken. Helder blou oë teen ‘n donker vel. Sulke blou oë aan ‘n swart mens het hulle nog nooit gesien nie! “Hy’s nie van ons nasie nie,” het een gefluister, “kyk sy oë!” “Tokoloshe-oë!,” het ‘n bang-prater gebrom. “Bring klippe, maak dood, keer voor hy slegte goed bring!” Toe kom die stem van die moruti, sag maar sodat almal kan hoor: “Lenyoloi…” ‘n Engel. ‘n Engel in ‘n rooi krismisboks vir Madinonyane se mense. “Bring vir hom kos, bring pap, loop koop mageu by Thusanang… hy kom van ver,” het iemand vir Peme en Gabo gesê en los sente is uit broeksakke en bodusse gegee, maar die engel wou nie die kos eet nie. As iemand nader gaan, trek hy sy vlerke oor sy gesig en steek kop weg. “Ek sal, gee die kos hier,” het Thupelo gesê en Peme en Gabo aan die arms saamgetrek. Hy het die karton mageu oogeskeur, ‘n sluk gevat, mmm, en vir die ander twee aangegee en hulle het gedrink, mmm, dis lekker. Toe gee hy dit vir die engel en hy vat dit in twee snaakse kloutjiehande, hou dit voor sy mond, sluk, mmm. Die kinders het gelag en die engel se mond het mooi geword en opgetrek in die helderste lag wat oor die vlaktes weerklink het.
Daardie aand het almal by die Kgosi se krale bymekaar gekom. Ons moet hom kry by ‘n veilige plek, daar in die veld gaat die jakkalse hom opvreet. Ja, en wat as die mense van die ander statte hoor? Hulle sal hom kom steel. Nee, niemand mag weet nie. Ons moet hom beskerm, hy is vir ons gegee, uit die hemele. Maar hoe maak mens nou? Hy sit net daar met sy groot oge en sy stukkende vlerke. En hy bewe van die bang. “Hy is nie bang vir die kinders nie,” het iemand gesê. Die kinders het hom gaan haal. Sommer so in die boks gedra. Hy was so lig. In die middel van Madinonyane naby die droë fontein het hulle hom neergesit.
Vir drie weke lank tot Kersdag het die kinders hom versorg. Soms het die grootmense gaan kyk hoe die kinders by die engel sit en gesels, al praat hy nie terug nie. Hoe hulle daar speel, net om naby die engel te wees. Hulle het baie gelag. Die engel ook, dit is al wat hy saam gedoen het. Soms het hy uit die boks gekruip en sy vlerke oopgesprei, geklap. Dan het hulle nader gestaan en gekyk. “Vlieg, vlieg,” het hulle soms gesing. “Vlieg hoog bo die wolke tot by die sterre!” Maar die engel het dan net weer teruggeklim in sy blink boks, gaan sit en kyk oor die vlaktes.
Skielik een dag het daar water begin borrel uit die grond van die ou fontein. Party mense het van die water gaan drink en gesê hulle mae voel goed. Hulle hele binnegoete voel beter en emmers vol aangedra huise toe.
Daardie Kersfeesoggend met die eerste sonlig oor die vlaktes, was die kinders reeds by die rooi boks, maar die engel was weg. Dit was net die boks. ‘n Groot rooi vlek soos bloed tussen bosse langs ‘n fontein wat skielik weer droog was.
Thupelo is reeds ‘n ou man, half blind, half doof, krom van die werk op die plase. Hy loop met sy hand op ‘n kierie gekerf uit boomstomp. Hy loop sommer so deur sy geboorteplek met sy skaduwee wat maar altyd saamkarring soos sy onthoue. En hy hoor dit, soos net gister: die borrel van water en hy weet nie of hy sien wat hy sien nie, maar daar ver tussen die bessiebosse blink ‘n rooi iets. Dan los hy sy kierie en sy bene vat die stofpad van sestig jaar terug. Daar slaan bolle stof agter sy voete uit soos hy hardloop, soos sy oë en sy hart sy hele lyf saamsleep. Dis Kersdag en hy is weer elf jaar oud.
MARLIZE HOBBS