Friday, August 6, 2010

... Van 'n blote skoenlapper

DAARDIE TERLOOPSHEID

Ek het ‘n leeftyd met jou gedeel
Van die vlinder in die kokon
Die papie
Die pers koolblaar-gespinde dop

Jou kyk het my ontwaak
Seegroen, soos ‘n karibbiese oseaan,
So oop, so ooglopend
betowerd?

Of was dit die aanraking
Toe jou hand terloops oor my vingers
kon streel met die aangee van ‘n brandende
(o, hoe vurig was dit nie)
 sigaret

elke vlerk het verskroei
elke vlinder het uitgesterf
daar is nie meer bedreigde spesies nie
dis dood
weg

teken dit aan ‘n boeke vir die nageslag:
met fotos
en byskrifte
die woorde is jou beskore:

die terloopsheid van ons
het my (vlindervlerke) heel terloops
soos ‘n toevalligheid
verskroei

die residu dwarrel terug
teen augustuswinde
in die komende lente

Jy kan my in ‘n museum uitstal:

Ek is die sirkulere proses
Van ‘n blote skoenlapper

Die oe op my vlerke
is uitgebrand


No comments:

Post a Comment