Friday, August 6, 2010

GEDIGTE VIR DIE NAG


EK WIL JOU NIE MEER LIEFHE NIE

Ek wil jou nie meer liefhe nie

Hierdie is ‘n ou verweerde jas
Oerbekend en opgedra,
Dit is vol gate     verwyt
Sigaretbrandmerke van skuld   
torring die nate los       die wind waai teen my koue ribbes vas

Ek wil jou nooit weer bemin nie
Die holtes van my hande
gespyker met jou naam, jou voorkop, jou soene
Drup donkerrooi op die grond,
Krul om en seil weg
Verder weg
as jou hart wat suiwer geweet het
jare terug al, dat jy my nie kan liefhe nie
                          augustuswinde breek takke teen my lyf
jy is die litteken wat ek sal onthou

Ek wil jou nie sien nie
Los my vensters uit, jou klippe het my gesplinter
Hoor hoe klingel my ewige skuld
aan jou ongeluk, angs,
                                        voeltjiebang hartklop in my hand?

Ek is van die begin geoordeel
Die wind het jou nie by my uitgewaai nie
Jy is nie weerlose blare nie

Wie dan het jou die mossie gemaak?

Ek gaan jou vergeet
Ek gaan nie onthou
van jou hare wat val oor my gesig
of jou eendag-lank-terug blomme
nie

dit het verdor in hierdie winter
                           kan jy sien hoe die herfsblaar verkleur?
                          
nou is daar niks meer om te vertel nie
ek gee my oor
aan die wind, die magte van jou verwyt
my skuld
ek wil niks meer nie

ek is nie meer joune
jy nie meer myne

ek het vir jou vlerke gemaak
uit die losgetorringde jas
wat jy so bitterlik haat

ek sal nie meer
liefhe, woorde weef, bang voeltjies vashou
of onthou nie

jou vlerke brand vry

No comments:

Post a Comment