DIE AARDE IS ‘n OOP WOND
Ek het ‘n boks gebou vir jou
Uit die oorskiet
Eenkeer het jy bely uit ‘n digter se mond:
“ek het jou egbreeklik lief”
egbreeklik inderdaad, kan ek jou ego
maar daar is nie papiere wat ons bind nie
die wegstap is onseremonieel
ek het ‘n boks gebou
soos ‘n kis miskien
iets wat kan wegsak in die diepste rou aarde
en verdrink tot net ou bene bly
nie veel het oorgebly nie
die oorskiet dra ek alleen boks toe
ek krap op ‘n ashoop
soos die afge-etsde figuur van ‘n straatkind
hande skurf gesoek in ander se weggooi
hier vind ek:
miskien ‘n vinnige soen, vlugtig soos ‘n skoenlapper
ek spyker die vlerke oop teen die kis
bere dit nou: finaal weg
of die aanraking een keer ses maande terug
ek balsem die lyk van my eens-geliefde lyf
sit dit heel onder in hierdie boks
‘n glimlag? ‘n omgee-woord?
Jou hand wat die kontoere van my lyf natrek
My soos ‘n padkaart volg
Soos jy my ken
En beken
Ek bou die boks
Vol herinneringe
En verspotte toekomsplanne
Ek is nie meer onskuldig of oortuig nie
Ek weet nou
Die aarde is ‘n oop wond
Vol wurms wat die dood
Geduldig inwag
Verlaas nog kniel ek eerbiedig
Dit is ‘n begrafnis after all
No comments:
Post a Comment